Dr. Andrea Grünhagen (SELK)
Daar is ingewikkelde lewens- en geloofsvrae. Daarom is die ooreenstemmende antwoorde ook ingewikkeld. Soms is hulle selfs paradoksaal. Dan ervaar die vraende persoon die antwoorde as onbevredigend. Dit is egter belangrik dat daar ‘n algemene ooreenkoms bestaan tussen die persoon wat vra en die persoon wat antwoord, oor wat die basis vir die antwoorde vorm. Vir ons as Lutherane is dit die Heilige Skrif en die belydenisse van die Lutherse Kerk as die toepaslike uitleg van die Bybel. ‘n Mens kan ook ‘n ander basis hê. Een van my professore het altyd gesê: ‘Die vraag is nie of u dogmas het nie, maar wátter.’ Die ervaring dui daarop dat die Bybel vir ons ook antwoorde gee wat allesbehalwe eenvoudig is.
Waarom moet ons ons dan besig hou met dinge wat ons in elk geval skaars kan verstaan? Omdat dit werklike vrae is, wat by mense spook, veral as die einde van die lewe nader kom en die vraag na die ‘daarna’ met mag gestel word.
- Is almal wat nie in Jesus glo nie, regtig vir ewig verlore?
Afhangend van hoe hierdie vraag beantwoord word, kan ‘n mens moontlik al die ander vrae wat hier gelys word, weglaat. As die antwoord ‘Nee’ is, is die probleem opgelos. Óf ons is op ‘n pad wat aan die einde in twee rigtings vurk, óf nie. Dit word teologies die “dubbele uitverkiesing” genoem, en daarteenoor staan die lering van die “universele versoening”. ‘n Paar weke gelede het die Christelike tydskrif idea probeer om betroubare uitsprake van mense met kerklike of teologiese leiersposisies hieroor te verkry. (idea spektrum 48.2019 bl. 16-18) Gevolglik het die teologiese vise-president van die EKD (Evangeliese Kerk Duitsland) Thies Gundlach hierdie vraag beantwoord met ‘n aanhaling van die teoloog Karl Barth: ‘Ek leer nie universele versoening nie, maar ek leer dit ook nie nie.”
Die gebrek aan duidelikheid is waarskynlik te wyte aan die feit dat iemand wat wel weet dat die Bybel van die laaste oordeel en van die hemel en die hel praat (Matteus 25,46; Johannes 3,16-18; Johannes 5,24-29; Romeine 2,1-16; Hebreeus 9,27f; Openbaring 20,11-15), nogtans geen vreugde het om te dink dat soveel mense vir ewig verdoem is nie.
Die antwoord van die Lutherse belydenis daarenteen is baie duidelik: “Ons leer voorts dat onse Here Jesus Christus op die Laaste Dag weer sal kom om almal te oordeel. Hy sal al die dooies opwek, en aan die gelowiges en uitverkorenes die ewige lewe en oneindige vreugde gee, maar die goddelose mense en die duiwels sal Hy in die hel en tot die ewige verdoemenis veroordeel.” (Augsburgse Belydenis Artikel 17)
- As geloof ‘n geskenk is, waarom gee God dit nie vir almal nie?
Die meeste mense vind dit vandag moeilik om te erken dat daar ‘n hoër wese is wat soewerein ‘n ewige oordeel oor my lewe kan maak. Maar as dit so is, wil mens graag die kriteria daarvoor ken. As ‘n mens nie soos Lutherane aanvaar dat God se genade alleen werk nie, kan hierdie vraag logies beantwoord word. Daar is drie antwoorde volgens menslike logika. Eerstens, geloof is nie ‘n geskenk nie, maar ‘n besluit wat in ‘n aktiewe Christelike lewe bewys moet word. Elkeen het die kans om hierdie besluit vir Christus te neem en mens is ook vry om sy wil te doen. Sodat elkeen hierdie kans kry, doen ons sendingwerk. Wie nie vir Jesus kies nie, dra self die skuld vir sy ewige verdoemenis, want hy wou nie. Dit is die meer evangelikaal-pietistiese weergawe. Die Rooms-Katolieke weergawe lui so: die mens word deur die sonde bederf, maar nie heeltemal nie. As hy wil, kan hy die hulp van die Katolieke Kerk getrou gebruik om ‘n geloofslewe te lei vanuit die aanvanklike genade wat God hom in die doop gee. Of hy dan gered sal word of nie, hang daarvan af of hy goeie werke doen as bewys van sy geloof, of ten minste die voorneme het om dit te doen, of dat hy opreg berou het oor sy sondes. Die leer van die Gereformeerde Kerk, (bedoelend die Calvinistiese Kerke) oor die dubbele uitverkiesing (predestinasie) sien dit heeltemal anders: God gee nie die gawe van geloof aan almal nie, maar slegs aan diegene wat Hy vir redding gekies het. Diegene wat Hy voorheen bestem het om verdoem te word, kan glad nie glo nie.
Dit is maklik om te sien dat u nooit seker kan wees van een van die drie weergawes nie. Óf ‘n mens weet nie of jou eie bekering eg en voldoende was nie, óf jy vra jouself af of die hoeveelheid goeie werke voldoende is en die berou opreg en deeglik genoeg was. Of ‘n mens het die kwelvraag of jy enigsins vir die ewige redding gekies word.
Maar Luther was besorg oor die sekerheid van die ewige redding. En dit bestaan slegs wanneer redding van Christus alleen afhang en glad nie van mense nie. Daarom kan die Lutherse teologie die vraag waarom sommige glo en ander nie, so ver as wat ons kan beoordeel, nie beantwoord nie. Ons glo nie in ‘n dubbele uitverkiesing nie, want God se Woord sê: “God wil hê dat alle mense gehelp moet word en dat hulle tot die kennis van die waarheid moet kom. (…)” (1 Timoteus 2:4) As mense oor hulself sê dat hulle nie kan glo nie, is dit op ‘n menslike vlak. Soms vermoed hulle dat Christenskap gevolge vir hul lewenswyse sou hê, en dit wil hulle vermy. Soms het hulle ‘n heeltemal verkeerde siening van Christen-wees. Soms beteken geloof vir hulle ‘n vae aanname van die waarheid oor Bybelverhale vir kinders; hulle weet nie dat dit oor vertroue in Christus gaan nie.
Vanuit óns beeld van die mens, waarvolgens die mens nie net swak is nie, maar heeltemal dood is sonder God, bely ons met die Augsburgse Belydenis: Die mens het geen vrye wil om ‘n besluit vir God te maak nie, omdat die mens ’n “uiterlik eerbare lewe kan lewe en wel keuses kan maak in verband met dié dinge wat die verstand kan begryp. Maar sonder genade en sonder die hulp en werking van die Heilige Gees kan geen mens God behaag, Hom van harte vrees, in Hom glo of die ingebore bose lus uit sy hart verban nie. Dit geskied deur die Heilige Gees wat deur die Woord van God aan die mens gegee word. Paulus sê dan in 1 Kor. 2:14: “…die natuurlike mens aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie.” (Augsburgse Belydenis Artikel 18)
- Wat van mense wat nie kan glo nie weens moeilike ondervindinge of weens die ellende in die wêreld?
Ek dink in hierdie geval moet ‘n mens nie van ongeloof praat nie, maar van ‘n geloof wat beproef word. As gevolg van moeilike ondervindinge of as iemand baie naby aan die ellende van die wêreld kom, kan daar fases wees waarin dit onmoontlik lyk om te bid of om op God te vertrou. Ons kan verseker wees dat God ons steeds nie sal verlaat nie en sal deurdra.
Dit is iets anders as beskuldigings met die klagtes vermeng word en iemand onbewustelik dink dat hy God kan straf deur weg te draai vir dit wat hy toegelaat het om te gebeur. Dit het iets te doen met pyn en hulpeloosheid. God verbreek nie daaroor die verhouding nie.
En dit is ook iets anders as iemand die wangedrag van die kerk of God se vermeende nie-ingryping as bewys gebruik om so te sê die vinger na God terug te wys. ‘n Bejaarde predikant het my eenkeer vertel dat hy mettertyd geleer het om baie presies tussen hierdie drie situasies te onderskei. By laasgenoemde sou hy net sê: “Jy is reg. Dit is heeltemal verkeerd wat in die kruistogte en die vervolging van hekse gebeur het. Maar God sal jou nie eendag daaroor vra nie, want jy was nie daar nie. Maar wat van dit wat hy jou wel sal vra?”
- Is dit afhangend van die ouers of iemand glo of nie, omdat hulle iets verkeerd of reg gedoen het?
Dit sou ‘n eenvoudige verduideliking kon wees. ‘n Mens kan byvoorbeeld waarneem dat sommige dinge in die Christelike opvoeding van kinders byna altyd goeie gevolge het en ander byna altyd slegte gevolge. Maar geen reël kan daaruit afgelei word nie. Alle ouers weet dat elke besluit verkeerd kan wees. As ouers byvoorbeeld hul kind verbied om ‘n sportbyeenkoms by te woon, omdat hulle kerk toe moet gaan, kan dinge in twee rigtings draai. Die konsekwente optrede kan die kind die nodige oriëntasie bied, en hy verstaan wat in sy gesin prioriteit het, of hy bal sy vuis in sy sak en besluit om altyd sport toe te gaan in plaas daarvan om kerk toe te gaan, sodra hy self kan besluit. Daar is ook gereeld genoeg gesien dat nie almal wat dieselfde ouerhuis gehad het, altyd dieselfde pad gaan nie. Op ‘n sekere punt neem kinders besluite wat geloof kan bevorder of benadeel waarvoor hul ouers nie meer verantwoordelik is nie: die keuse van ‘n huweliksmaat, professionele omstandighede, die hele sosiale omgewing van die volwasse kinders. Ek meen, as ouers na die beste wete en oortuiging gedoen het, wat hulle belowe het toe hul kind gedoop is, kan dit wat verkeerd geloop het, slegs aan God se genade oorgelaat word en die kinders ook op godsdienstige vlak met hul eie verantwoordelikheid die wêreld ingestuur word.