150 jarige eeufeesviering van die Peter-Pauls Gemeente Lüneburg
Lüneburg will graag fees vier! Wat behels dit alles? Die komitee vir geskiedskrywing was al menigte jare besig om alle inligting en prente te versamel met die doel om ’n gedenkskrif saam te stel. Dis regtig interessant wat hulle alles ontdek het. Tans vier ons eredienste in die derde kerkgebou op Lüneburg. “Is dit nie eers die 2de gebou nie?” sou sommiges vra.
Nee, die eerste kerkgebou was die sogenaamde “Sodenkirche” (Soden is die naam vir die klei-stene waarmee die mure gebou is). Dit was geleë naby die huidige woonhuis vir ’n skoolonderwyser. Tot onlangs was die grond nog bedek met bossies en omring deur woud. Volgens oorlewering was die geboutjie baie laag en binnekant moes dit donker gewees het. Vir 18 maande was dit pastorie en kerk in een, totdat die sogenaamde “Fachwerkkirche” gebou is (Fachwerk verwys na die boustyl met hout en stene) wat naby die huidige begrafplaas opgerig is en vir 12 jaar as kerk gedien het. Sodoende kon die ou “Sodenkirche” as behuising vir die eerste drie predikante van die gemeente dien.
“Onthou ter wille van die toekoms”
Vir altwee kerke was beskrywings en opmetings beskikbaar. Op grond van hierdie inligting het Mnr Kurt Gevers planne opgetrek en prente laat teken. Sodat die inligting nie slegs in boeke en in die koppe van die geskiedskrywers behoue sou bly nie, maar ook vir Jan Alleman tot beskikking staan, het die gedagte van monumente ontstaan.
Die menere Reginald Niebuhr en Kurt Gevers het baie moeite gedoen om tesame met die beplanningskomitee en die kerkraad, planne op te trek en gedenkstene te laat maak, sodat alles vir ’n amtelike sermonie voorberei kon word. Na baie geswoeg en gesweet was inderdaad alles op die laaste nippertjie in plek. ’n Yslike haelstorm het nog die Vrydag voor die onthullingssermonie planne deurmekaargekrap, maar met die hulp van vele hande kon die perseël vir ’n tweede keer pragtig voorberei word.
Op Ewigheidssondag, die 24ste November 2019, het uiteindelik die groot dag aangebreek. Die gemeente, nageslagte van sendelinge en kolonialiste en ander gaste het na die hooferediens om 11 uur by die monument van die eerste kerk bymekaar gekom. Dit was ’n heerlike sonskyndag. Klokkespel, koper-blaasorkes, gesang, gebede en seën het die seremonie gekenteken. Mnr Kurt Gevers het heelwat inligting oor die plek en sy geskiedenis met die gemeente gedeel wat ook in Zulu vertaal is. Hy het o.a. bekend gemaak dat die grondvlak-oppervlakte van die monument presies ooreenstem met die mate van die eerste gebou. Daar is ook 6 bome geplant vir elk van die 6 gemeentes onderskeidelik; dit was sendinggemeentes wat reeds bestaan het of nuwe gemeentes wat nog ten tye van die eerste generasie uit die gemeente Lüneburg ontstaan het. Die bome, so het Mnr Gevers verduidelik, bied beskerming vir dit wat ons as waardevol beskou, en reik met hulle punte na bo – na ons almal se einbestemming, die hemel.
Vervolgens het die gemeente oorbeweeg na die standplaas van die destydse tweede kerkgebou, die sogenaamde Fachwerkkirche. Gaste het hul verbly oor die welkome skaduweebome en gerieflike sitplekke. Ook hier is ’n gedenksteen onthul onder begeleiding van koper-blaasorkes, gesang, gebede en seënsprekinge. Die onthulling self is deur Mnr Reginald Niebuhr behartig; hy het ook verdere geskiedkundige inligting gegee soos dit in die gedenkskrif opgeteken is. Dit was inderdaad ’n verrykende, nederige, maar tog ook waardige seremonie. Ons vertrou dat gaste genoë en positief huiswaarts gekeer het.
’n Week later, op 1 Desember 2019, was die hoogtepunt van die 150ste eeufeesviering van die Evangelies-lutherse Peter-Pauls gemeente. Die rede vir hierdie 1ste Adventsdag se stigtingsdatum was ’n sterftegeval waar mense van die omgewing ’n leraar versoek het om die begrafnis te hanteer en om as hulle predikant aan te bly. Toe hy aan die versoek gehoor gegee het, is die gemeente amtelik in die lewe geroep.
Omrede die huidige kerkgebou te klein sou wees om die aantal gaste te
huisves, is reeds op Donderdag ’n groot wit tent naby die kerk opgerig. Die dames het ewenëens met kosvoorbereiding en versierings baie moeite gedoen. Op Sondagoggend 8:30 het die koperblaasorkes die verrigtinge met lofgesange geopen tot eer van die Here. Ons dank die Here vir goeie weersomstandighede vir die amper 600 gaste. Dit was ’n welkome wedersiens van families en bekendes, oudgemeentelede en besoekers van omliggende gemeentes. Reeds die aand vooraf het ’n 5-man-delegasie vanuit die stad Lüneburg, Duitsland, geariveer. Oudleraars Pastor Dieter Schnackenberg en Matthias Albers het saam die erediens aangebied. Ook Mev Scharlach het moeite gedoen om die verrigtinge by te woon; sy is die weduwee van wyle Pastor Günther Scharlach wat die gemeente vir dekades lank gedien het.
Die tema “Onthou ter wille van die toekoms” het in talle toesprake en woorde van groete weergalm. Die huidige leraar, Pastor Klaus-Eckart Damaske het telkens aankondigings gedoen en insetsels gelewer, terwyl Pastor Albers in die inleidende gedeelte en Pastor Schnackenberg die preek van die erediens oor Jesaja 43:19 gehou het: Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis. Koperblaasorkes, kore, kinderkoor en ander musikale bydraes het ons lofprysing versterk.
Na ’n pouse met welkome verversings is die fees voortgesit – beginnende met groetnis van die burgermeester Mädge uit Lüneburg, Duitsland. Mnr Kurt Gevers het met die hulp van ’n skyfievertoning ’n insiggewende oorsig gegee oor 150 jaar se gemeentegeskiedenis. Daarna het talle gemeentes en afgevaardigdes van ooraloor woorde van gelukwensing oorgedra wat deur verdere gemeentegesang en musikale bydraes versier is. Pastor Matthias Albers het die dag met ’n oordenking afgesluit waarna die hele gemeente vir ’n finale lofprysing hul dank aan die Here betuig het.
Ieder en elk was uitgenooi om oor heerlike middagete nog te kuier voordat mense weer die paaie huis toe aangedurf het. Die afgevaardigdes uit Duitsland het vir nog verdere twee nagte by verskillende gemeentelede tuis gegaan.
Inderdaad was dit ’n onvergeetlike fees wat nog lank in ons gedagtes sal bly.
Dorle Beneke, Lüneburg (Vertaling: Pastor Klaus-Eckart Damaske)