Dag van herdenking van die Augsburgse Belydenis (van die belydenis van Augsburg)
– Angelika Johannes, Panbult
“Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie.” – Psalm 119:46
Thank you for reading this post, don't forget to subscribe!Tydens die naweek van die herdenkingsdag van die Augsburgse Belydenis (25 Junie) het die 91ste Basuinfees van die FELSISA in die nuwe sportsentrum van die Wartburg-Kirchdorf Skool plaasgevind. Na ‘n 3-jaar breuk as gevolg van die pandemie, het die Christusgemeente Kirchdorf hierdie dag met nederige dankbaarheid en innige vreugde gereël. Die sowat 900 gaste is goed onthaal, en die terrein en die saal was ideaal vir hierdie fees. Die lede van Kirchdorf en almal wat bygedra het tot die organisasie van die dag word hartlik bedank vir hul toewyding.
Onder leiding van die hoofdirigent Heinz Niebuhr (Kirchdorf) is die gepaste koraal van Bach “Gott des Himmels und der Erden” as eerste gesamentlike stuk gespeel. As deel van ’n feestelike erediens het die sowat 250 blasers musiek gemaak en die plaaslike pastor Dr. Karl Böhmer het oor die Evangelielesing uit Matteus 10:26b-33 gepreek. “Geloof is ’n persoonlike saak, maar nooit ’n private saak nie!” het Pastor Böhmer gesê. Hy het verduidelik dat die belydenis nie net iets vir die een of ander fundamentalis is nie en dit beteken ook nie om te veroordeel nie, maar dat God self ons oproep om te bely: “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 10:32-33) Hy het daarop gedui, dat daar in hierdie wêreld weerstand sal wees om God te bely, dat die goeie nuus dalk net as verouderd gesien word, en dat niemand sal belangstel nie. Maar “as ons God vrees, het ons niks om te bevrees in hierdie wêreld nie,” het Pastor Böhmer voortgegaan. God sal ons nie die moeilike paaie spaar nie, maar Hy sal ons versterk en bystaan. Wie met die hart glo, is geregverdig, en elkeen wat met die mond bely, word gered (vergelyk Romeine 10).
Nie net woorde en dade dien daartoe om God te bely nie, maar ook die musiekinstrumente. Die erediens is gevolg deur musiekstukke geskik vir die verskillende temas van die Sondae en feeste reg deur die kerkjaar. Onderdirigent Roland Meyer (Lüneburg) het ook van die stukke gedirigeer. Boonop het die individuele kore die begin van die tweede deel ingelei: Pretoria met ‘n Vivace van Handel, Panbult met die Allegro van Torelli en Lüneburg met ‘n koraalverwerking van In dir ist Freude deur Weckeßer.
Die laaste toespraak is gehou deur Pastor Tobias Ahlers (Shelly Beach) oor die brieflesing uit 1 Timoteus 6: “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” Hiermee moedig Paulus Timoteus aan om voort te gaan om die goeie belydenis af te lê net soos Jesus voor Pontius Pilatus gedoen het. Dit het albei se lewens gekos. Nietemin kan die goeie belydenis nie stilgemaak word nie, want Christus, wat bely word, het die dood oorwin. Die goeie belydenis gee vergifnis, dit bring die lig van die waarheid na vore en dit verenig tot een heilige kerk. Jesus self is die goeie belydenis – Hy versorg en voed sy kerk deur sy dienaars. “Wanneer ons die goeie belydenis van ons voorvaders van die jaar 1530 onthou, dank ons God vir al die leraars wat ons in die verlede versorg en gedien het,” het Pastor Ahlers gesê.
Die versekering dat ons die ewige lewe in Jesus Christus het, is wat in die Belydenisskrifte opgeteken is. Vanaf die basuinfees in Wartburg het ons met hierdie sekerheid teruggegaan na ons eie huise en na die alledaagse lewe, en is met blymoedige moed beskenk om ook hierdie belydenis in die wêreld te laat weerklink.