Desember… Vakansie… Nee, Nog Beter as dit! Die Jeugkamp!
Die sinodale jeugkamp het van die 11de tot die 16de Desember te Lüneburg plaasgevind. Almal was vol afwagting vir die week se plesier en vermaak en veral die leersame tema: „Being Spiritual! Ek wens dat ek ‘n dieper verhouding tot God kan kry!”
Die hooftema was in drie temas onderverdeel, nl. “Oratio – Meditatio – Tentatio”, wat deur Pastor Helmut Paul (Wittenberg), Pastor Martin Paul (Pretoria), Pastor Tobias Ahlers (Randburg) en proponent, Christian Straeuli (Wittenberg), aangebied is. Ons wil hulle bedank vir hul insette en goeie voorbereiding.
Oratio handel oor die gebed. Aanhand van die Onse Vader het ons vir eers die klem geplaas op hóé kan ons bid. Meditatio beteken om oor God se woord na te dink, te mediteer. Dit gebeur dat ons soms aan verskillende dinge gelyktydig dink en probeer om ons geloof d.m.v. ander hulpmiddels te verduidelik. Die heel belangrikste is egter om op die woord van God te konsentreer! Die derde tema, Tentatio, beskryf die spanning wat ons as Christene in die alledaagse lewe ervaar. Aan die een kant is God se woord, en aan die ander kant die duiwel wat ons in versoeking lei. Dit bly hier op aarde altyd ‘n kringloop, wat nooit tot ‘n einde sal kom nie: Oratio – Meditatio – Tentatio.
Hierdie tema is baie prakties aan ons verduidelik en elkeen sal dit daagliks in sy lewe kan toepas. Na aanleiding van dr. Martin Luther kan mens die tekste wat ‘n mens in die Bybel lees, veral die gebooie, altyd volgens die volgende formule beskou: „LLBB – Lernen, Loben, Beichten und Bitten.“ Of te wel: Leer, Loof, Bieg en Bid. Hierdie formule help om tydens jou eie stiltetyd meer uit die Bybelteks te kry!
Ons wil vir Bernhard Böhmer hartlik bedank, wat vir die afgelope 13 jaar met baie geduld en min tyd liedjies tot eer van God met ons ingeoefen het. Dit was beslis nie ‘n maklike taak nie. Mag die Here jou seën!
Graag bedank ons ons voormalige jeugouers, Ralph en Cornelia Schröder, wat ons vir die afgelope 4 jaar met baie liefde en opofferings gelei en gedien het. Tydens hierdie jeugkamp het ons ons nuwe jeugouers, André en Sonja Voigts, leer ken. Hulle is bereid om hierdie belangrike taak oor te neem. Baie dankie vir julle bereidwilligheid; dit word opreg waardeer.
Woensdag het ons na Hiestermann se plaas gery om die kruis en die skrif teen die berg oor te verf. Ongelukkig het ons nie klaar gekry nie omdat daar te min tyd was en die kruis veel groter was as wat ons gedink het. “JESUS CHRIST IS LORD OF ALL!” het ons tenminste klaar gekry. Ander jeugdiges het gedurende die week uitstappies na GNG of Ignite onderneem, berg geklim, mosaïek-kruise gemaak of koekies vir die senior burgers gebak.
Dit was ‘n sukesvolle jeugkamp en ons wil almal hartlik bedank wat daartoe bygedra het. ‘n Groot dank gaan aan die Lüneburg vrouekomitee wat ons bedien het met die lekkerste kos en gasvryheid. Ons het dit terdeë geniet en kan nie meer wag op die volgende jeugkamp nie!
Erich Beneke, Panbult