Angelika Johannes, Panbult
Vanjaar se koorsangfees is vir 22 September 2024 te Durban beplan. ’n Paar dae vooraf het ‘n mens reeds verskeie boodskappe met erge weerwaarskuwings ontvang, maar soos meeste Suid-Afrikaners het ‘n mens dit nie regtig geglo nie. Op die een of ander manier sal dit wel uitwerk!
Toe ons Vrydagmiddag van Gauteng na Durban op pad was, het dit begin sneeu en na aanvanklike opgewondenheid het ons uiteindelik besef dat dit dalk moeilik sal wees om tot in Durban te kom. Maar ons het nie verwag dat ons heelnag in die verkeer op die N3 sou sit en nie die volgende oggend betyds by die oefening vir die instrumente sou wees nie. Na 13 uur in die sneeu kon ons uiteindelik omdraai en het Saterdagmiddag betyds opgedaag vir die kooroefening.
’n Verbasende aantal sangers het Sondagoggend by die N.G. Kerk, Krantzkloof onder die tema “Huil, weëklag, bekommernis, vrees, benoudheid en nood is die tranebrood van Christene wat die teken van Jesus dra.” – Bach-kantate BWV 12 vir die Sondag Jubilate. Die program, gepas voorberei deur die sinodale koorleier mnr Bernhard Böhmer, het baie aspekte van hierdie onderwerp uitgelig. Ons bedank hom vir sy onvermoeide insette tot die koorvereniging!
Die plaaslike pastor, biskop Helmut Paul, het die preek tydens die feesdiens gehou en die Durbanse gemeente het alle gaste dedurende die naweek met gasvryheid bedien. Baie dankie vir ‘n suksesvolle koorsangfees en al die voorbereidings!
’n Musikale hoogtepunt vir baie was beslis Brahms se “Begräbnisgesang” (begrafnislied), wat dalk nie vooraf so oortuigend in die individuele kore geklink het nie, maar op daardie dag met die blaasinstrumente ’n wonderlike weerspieëling van die teks geword het. In die slotoordenking het sendeling Christoph Weber beklemtoon dat ons hier op aarde so te sê alle lyding, alle swaarkry, bekommernisse en vrese kan verduur omdat ons ‘n Christus het wat alle lyding oorwin het en ons nooit verlaat nie. Selfs die hemelse musiek wat by ‘n koorsangfees gemaak word, is maar net ‘n klein voorsmakie van wat vir ons Christene in die nuwe Jerusalem wag.
As ons terugdink, is ons dankbaar dat ons ondanks verskeie struikelblokke aan ‘n geseënde koorsangfees kon deelneem en sien reeds daarna uit om volgende jaar in Lüneburg saam musiek te maak!





