Kerk en staat: Die Lutherse perspektief op die twee-koninkryke
Mag ons in die skool bid? Moet die kerk meer teen korrupte regeringsamptenare opstaan? Moet die staat christelike huwelike reguleer? Hierdie is die soort vrae onder ons lede wat dikwels redelike verskillend benader word. Juis in die jaar van Hervorming 2017 wil ons van hierdie vrae in oënskou neem. Van-selfsprekend kan ons hier slegs enkele gedagtes deel terwyl daar biblioteke vol boeke beskikbaar is.
In Luther se tyd was daar oorheersend drie strominge identifiseerbaar:
- Die eerste siening is veral deur die Rooms Katolieke kerk gehandhaaf en sê: álle mag en outoriteit kanaliseer God deur die institusie kerk om die wêreld te bestuur. Die kerk kan óf self gesag uitoefen óf die gesag delegeer aan bv die keiser of ander gesagsinstansies.
- Die tweede siening is deur die sogenaamde Anabaptiste (dit is die wederdopers) gepropageer, naamlik dat die kerk sover as moontlik niks met die staat te doen moet hê nie (bv. vandag die Amish). Die Bybel word so te sê as ‘n naslaanboek gebruik om die alledaagse lewe te reguleer soortgelyk aan die volk Israel van die Ou Testament. Die variasie op hierdie siening is dat wêreldse instansies soos die staat, vir die kerk behoort te help om Bybelse beginsels in die samelewing af te dwing (soos bv. die Calvinistiese siening).
- En die derde siening het uit die Lutherse Hervorming uitgekristaliseer wat ‘n inklusiewe benadering volg deur te onderskei, nie te skei nie.
- Wat behels die twee regimente / koninkryke?
Die Lutherse siening is dit: alle gesag kom van God af, maar Hy regeer in hierdie wêreld op twee maniere, of te wel deur twee regimente – (1) deur die staat met mag, en (2) deur die kerk met genade. Luther se siening van die mens is hier van belang: Die mens, al is hy in Christus wedergebore, bly nog steeds sondig solank as wat hy in sy liggaam lewe. Daarom, omdat die Christen as ‘n natuurlike en ‘n geestelike wese, as ‘n sondaar én regverdige tegelyk bestaan, is gelowiges burgers van altwee koninkryke. Kom ons probeer om die twee regimente met mekaar te vergelyk voordat ons verder besin:
God regeer oor alles en almal | |
Die regiment aan die linkerkant | Die regiment aan die regterkant |
Spruit uit natuurlike reproduksie, die gesin en groepeer in onderskeie gemeenskappe en wêreldse koninkryke | Spruit uit die Woord in geloof, groepeer uiterlik in geloofsgemeenskap maar vorm innerlik deel van die één, heilige, Christelike kerk |
word bestuur deur verstand en logika volgens natuurlike wette wat neerslag vind in landswette | word bestuur deur die Evangelie en genade volgens geestelike beginsels en weerspieël die vrug van die Gees |
maak gebruik van staatsinstellings soos wetgewende en uitvoerende instansies | maak gebruik van die amp van die bediening wat behels Woord-verkondiging, Sakramente en pastorale sorg |
regeer deur mag (die swaard) soos in die wet uiteengesit en deur gesagsstrukture (polisie) afgedwing word | regeer deur die kerk* met genade soos die Evangelie die mens transformeer en herskep |
het ten doel om die duiwel en sy trawante te stuit om die bose af te weer en die euwel in te perk; dit bewaar die uiterlike vrede, bevorder die goeie, bestraf die boosdoeners en bewaar grense | het ten doel om die Koninkryk van God uit te bou en om mense in die regte verhouding met God te plaas, om die sondaar regverdig te maak uit genade alleen en om in die onbeperkte vryheid lewe en saligheid te gee |
kan slegs uiterlik en tydelik regeer | regeer innerlik deur die geloof in die harte van mense; God se Koninkryk bestaan vir ewig |
* die kerk moet onderskei word in die uiterlike gestalte as institusie met ‘n kerkorde en struktuur – dit is sy wêreldse, sigbare, veelvoudige gestalte. Die inhoud van díe éen Kerk bestaan in die geloof in Christus soos ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis sê: Ek glo aan ‘n heilige, algemene, christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges. – dit is die onsigbare realiteit van die genaderyk en sluit in alle gelowiges van alle tye.
- Wat lei ons af van hierdie onderskeid?
Die regiment aan die linkerkant geld vir alle volke, tale, kulture. Hoe verskillend hulle owerheid ook al mag wees, of amptenare van ‘n staat dit weet of nie, of hulle Christelik geöriënteerd is of nie, glo ons: die owerheid is dienaar van God (Romeine 12+13), God se instrument om uiterlik te regeer.
Christene het dus ‘n algemene positiewe ingesteldheid teenoor die (linkerkant se) wêreldse regiment want Christene sien Gód se voorsienigheid in ‘n goeie regering. Christene kan ook met vrymoedigheid hulle verpligting teenoor die staat en samelewing nakom in die wete dat God ook op hierdie manier binne die staatsstrukture gedien word. Dit word onderskraag deur die daaglikse gebed van Christene vir die regering. (1 Petr 2:13vv; 1 Tim 2:1-4) Ja meer nog, Christene onderwerp hulle vrywillig aan die landswette – want, soos bo gesê: Christene glo aan díé outoriteit wat bó alle owerhede staan.
In die Klein- sowel as Groot Kategismus verduidelik Luther t.o.v. die gebod: Eer jou vader en jou moeder … dat nie slegs ouers se gesag, maar ook die owerhede se gesag eerbiedig moet word, omdat Christene volgens die eerste Gebod, God bo alles met ontsag eerbiedig, liefhê en vertrou.
Laasgenoemde is daarom belangrik omdat die staat ook wette mag voorskryf wat indruis téén die wil van God. In sulke gevalle geld Handelinge 5:29 dat ‘n mens aan God méér gehoorsaam moet wees as teenoor mense. Christene word opgeroep om die gewete van die owerhede in te skerp, om die amptenare tot verantwoording teenoor God op te roep, en, indien die staat nogtans teen God se gebooie sy mag misbruik, bereid wees om te ly. Die Christen (die kerk) se gesag bestaan egter nie in geweld en rebellie nie, maar in Woord-verkondiging en in liefdevolle diensbaarheid.
- Enkele verdere gevolgtrekkings
Verwarring ontstaan maklik wanneer medechristene van ander denominasies byvoorbeeld praat van ‘n christelike skool. Ons Lutherane sou antwoord: nee, ‘n skool is ‘n verlenging van ouers se verantwoordelikheid waar deur ‘n wêreldse instansie die staat verantwoordelik gemaak word vir die opvoeding van sy landsburgers. Die staat is egter nie verantwoordelik om geloofsake te kweek nie (maar behoort dit ook nie te onderdruk nie). Dit is Christene se taak (in en deur die kerk) om geloof deur die verkonding van die Evangelie te bevorder. Die staat – en daarom ook die skool op sig self –
behoort neutraal te bly. M.a.w. die skool self kan nie Christelik wees nie. Wat ons as Christene egter wil sien, is dat daar baie Christene aktief by ‘n skool betrokke sal wees want hulle bevorder goeie morele waardes. Christene het as burgers van die land die (voor)reg om invloed uit te oefen, maar in dieselfde raamwerk soos alle ander burgers. Prakties bly dit ‘n goeie vergelyk te wees wanneer die kerk (of enige ander geloofsinstansie) geleentheid by ‘n skool kry om buite die amptelike onderig ook sy aanbod by die kinders tuis te bring – sodoende kom altwee, die staat en kerk, tot sy reg.
Ook praat ons Lutherane nie van ‘n Christelike huwelik nie want die huwelik geld vir álle mense. Ons praat van ‘n huwelik waarbinne Christene leef, en Christene leef ánders in hul‘ verhouding as wat nie-Christene dit sou doen. En so kan ons talle ander voorbeelde noem waar die uiterlike strukture en die innerlike geloofsake duidelik van mekaar onderskei moet word.
- Die gesprek duur voort
Terwyl daar geen perfekte wêrelse regeringsstelsels bestaan nie bied die Christelike geloof wel volmaakte lewe en saligheid. Christus sê vir sy dissipels: julle is in hierdie wêreld maar nie van hierdie wêreld nie. (Joh 15:18; 17:11) En telkens word gelowiges uitgedaag wat presies dit beteken? Antwoorde wat een generasie uitgepluis het (soos ten tye van Luther) kan nie summier oorgedra word na die volgende generasie nie. Gewetensbesware kan nie met onttrekking uit die samelewing besweer word nie maar verg moed, betrokkenheid, baie gesprekke en aanhoudende soeke na die waarheid. Desnieteenstaande bied die Lutherse twee-ryke-leer ‘n gelouterde benadering vir verdere gesprekke en oplossings.
Pastor Klaus-Eckart Damaske, Pretoria