“Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!” Numeri 6,24-26
Die herinneringe aan ’n spesifieke naweek lê nog vars in my geheue geprent. ’n Groep van ons Teologie-studente het vir ’n naweek by familie in Balhorn, Duitsland besoek afgelê. Ons het wonderlike dae daar deur-gebring. Saam het ons geëet, in die omgewing gaan stap en saans het ons saam aandete genuttig. Sondag, na die erediens, het ons dan weer saam ’n heerlike middagete geniet, voordat ons weer moes vertrek. Ingeprop in ’n klein motortjie, het die lang pad voor ons uitgestrek gelê. Daar wag seker nog verkeersopeenhopings vir ons oppad, en tuis die leë, koue studente-kamer. Alvorens ons die lang pad aandurf, oorhandig ons gasvrou aan ons egter nog ’n mandjie, oorlaai met koeldrank en toebroodjies, sjokolade en nog allerlei lekkernye. Die vervelige langpad het nou nie meer so vervelig daar uitgesien nie!
Vir ’n lang tyd sinspeel hierdie herinnering vir my op die einde van elke erediens, waar die seën ontvang word. ’n Oorvol mandjie word aan jou gegee. Ja, die dominee eindig nie net ’n erediens met die volgende uitdrukkings nie: „Dankie vir julle teenwoordigheid! Totsiens, tot ons mekaar weer volgende keer ontmoet!“ Die seën is ook nie net ’n teken soos ’n groen verkeerslig wat aankondig: „Die erediens het nou op ’n einde gekom. Julle kan maar gaan!“ Nee, die seën aan die einde is ’n geskenk van God af. Hy gee ons nog iets vir die pad saam. Hy lê Sy seën en vrede in ons hande. Hy sê: Vat dit saam!
Dikwels ervaar ons die seën van God tydens die erediens: ons hou asem op en sing die bekende gesange, ons ervaar God se verhouding met ons. Maar een of ander tyd kom dit tot ’n einde en dikwels vra ons onsself reeds tydens die erediens af: Watter angste en spanninge wag hierdie week op ons? Met watter tweedrag sal ek te doen kry? Watter twyfelagtighede sal aan my knaag? Hoe sal ek alles hierdie week kan baasraak?
Vir dae aaneen het die Volk van Israel God se nabyheid by die Berg Sinai ervaar. Hy was deur die woorde van Moses altyd in hul nabyheid. Hulle het Sy teenwoordigheid in die tent van ontmoeting, in die wolk- en vuur-kolom ervaar en herken. Hulle het oorgenoeg kos gehad, het kwartels en manna direk uit God se Hand ontvang. God het hulle teen die vyand bewaar en beskerm. Hier kon die Israeliete volkome vrede erfaar. Maar hulle moes tog weer verder trek: ’n lang, uitmergelende pad deur die woestyn – blootgestel aan baie gevare. Verkillende gevegte het op hulle gewag. Hulle moes die beloofde land verower. Angs, onsekerheid, onrustig-heid, vertwyfeling het hulle sekerlik op die reis begelei. So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën. (Numeri 6:27) Die priesters moet God se Naam oor die Israeliete uitroep; Sy begeleidende werke aan die volk toesê. Hulle moes hulle voorberei op die vertrek.
Die erediens mag ’n ryklike seën vir ons wees. Ons voel ons tuis in die kerk. Ons is omring deur God, gevul met Sy genade en liefde, omhul met sy alom-teenwoordigheid. Hierdie plek mag vir ons ’n seën, ’n beskerming en beskut-ting teen die bose wees! Warmer as die son skyn God se Aangesig deur Sy Seun oor ons. Ons ervaar hier vrede. Maar, binnekort moet ons hierdie ruimte verlaat! Die week lê vir ons voor; opdragte en verantwoorde-likhede staar ons in die gesig. Stres. Onrustigheid. Bakleiery. Smart. Nood. Tekortkomings. Teleurstellings. Ons kan die week met ’n reis deur die woestyn vergelyk.
God lê sy seën op ons. In die daaglikse sleur van die lewe staan Hy ons by en bespeur ons Sy nabyheid. Hy verleen aan ons Sy beskerming, Sy genade en Sy vrede. Ons verlaat nie God se Huis alleen nie. Die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, stap saam met ons die week tegemoet.
Aan die einde van die erediens, terwyl jou gedagtes reeds met die laaste gesang is of by die middagete, of as jy deur sorge omvou is, herinner jouself aan God se nabyheid. Luister aandagtig. Erken die teken van die kruis. As afskeidsgeskenk word daar iets in die hand gedruk. Vat dit saam!■
Pastor Helmut Paul, Wittenberg