Oordenking: God se sending is ons sending

God wat gesê het: Laat daar uit die duisternis lig skyn, dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus. (2 Korintiërs 4:6)

God se sending is ons sending

Is dit nie uitermatig verbasend waarmee God besig is nie! Wie insig het in God se werke, sal mos net lofprysing kan gee – soos Maria destyds, die engele by die herders op die ope velde of ons vandag: “My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker!” Ja, God is op pad om sy heil in hierdie wêreld te bring – na jou en my, na ons gemeente en gemeenskap, na hierdie aarde en na die hele kosmos. Uit sy Woord het hemel en aarde voortgekom en deur sy Woord het ook die lig vanuit die ewigheid in ons harte geskyn, met die bedoeling soos Paulus skryf: “…om die verligting te bring van die luister van God in die aangesig van Jesus Christus.”

Om dit anders te stel: Is die gemeente nie juis God se kersfeesgeskenk aan die wêreld nie?! Sy verkondig hierdie Jesus, en sy is die liggaam van Christus in tyd en ruimte, sy is Emanuel (dit beteken “God met ons”). Telkens verduidelik die Nuwe Testament die status van die gemeente wat in Christus uitverkies is nog voordat die wêreld gemaak is; sy is geheilig en toeberei. En terselfdertyd word daar ’n dinamika beskryf dat iets deur Christus, deur hierdie gemeente gebeur: Lig skyn in die wêreld, ons lewe aktief voor God, mense word gehelp en genees. Daar is verlossing, daar is lofprysing, en nog vele meer … alles tot heerlikheid van God (begrippe uit Efesiërs 1). Ons word ingetrek in en deelgemaak van God se sending. Ja, ons is God se sending, en daarom doen ons God se sendingwerk.

Vanselfsprekend moet ons hier ’n taalkundige onderskeid tref wanneer ons van “die gemeente” praat. In die brief aan die Efesiërs bedoel Paulus die een, ware, apostoliese kerk, die liggaam van Christus – sy is heilig en onberispelik, universeel en omvattend vir alle tye. En as ons sondae kerk toe gaan, dan sien ons daardie heiliges en uitverkorenes wat God vir sy sendingwerk gebruik. Terselfdetyd is daardie mense ook feilbare sondaars. Wanneer ons daardie vergadering ook “kerk” noem, dan verwys ons na die uiterlike, menslike organisasie – en daardie byeenkoms is inderdaad feilbaar en kan verbeter – waarom Paulus dan ook herhaaldelik aan die gemeentes skryf. Maar ten spyte van die feit dat gemeentelede sondaars is, is hulle ook in Christus heilig.

Weens hierdie dubbele karakter van die kerk hou ek baie van die komende jaar 2020 se leuse. Daar kom ‘n man na Jesus toe en pleit by Jesus om tog sy seun te genees. Eers antwoord Jesus: “Alle dinge is moontlik vir

diegene wat glo!” En dan roep die man uit sy binneste: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (Markus 9:24). En Jesus maak die seun gesond – as teken dat Hy die outoriteit bo alle magte en kragte het.

Later na sy opstanding gee Jesus vir sy dissipels, vir ons as gemeente, die opdrag: Gaan julle nou die wêreld in en doen die dinge wat Ek gedoen het, want dieselfde Gees wat in My was, sal ook in julle wees en deur julle werksaam wees. (eie woorde volgens Markus 16:14-20) Die evangelis Markus skryf vir ons dat sommige dissipels getwyfel het. Desnie-teenstaande het hulle aan die werk gespring: “Hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.” – waarop ek net kan bid: Here, verleen dit aan ons almal!

Met hierdie gedagte laat ons Kersfees vier en die komende jaar met nuwe ywer die wêreld tegemoed gaan. Dit is ’n wêreld wat deur God bemin word; vir haar het God sy beminde Seun oorgegee sodat elkeen wat in HOM glo, nie verlore mag gaan nie, maar die gevulde, ware lewe sal ontvang. En juis dit gebeur deur middel van ons insette – in huis en beroep, by familie en die gemeenskap … tot lof van sy heerlikheid!

Recent posts
Koorsangfees ‘n bietjie anders

Koorsangfees ‘n bietjie anders

Angelika Johannes, Panbult Vanjaar se koorsangfees is vir 22 September 2024 te Durban beplan. ’n Paar dae vooraf het ‘n mens reeds verskeie boodskappe met erge…

Leraarskonvensie

Leraarskonvensie

Vikaris Tobias Schütze, Pretoria Die FELSISA leraarskonvensie het hierdie jaar by die Sitilo Wildplaas naby Pongola plaasgevind. Die program het…

Jeugdag 2023

Jeugdag 2023

Michelle Niebuhr, Pretoria Jeugdag – ‘n datum wat in helder kleure in die jaarkalender aangedui word; ‘n dag waar baie…

Preek vir Rogate

Preek vir Rogate

Eer jou vader en jou moeder soos die Here jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word…