Kort Beoordeling van die Nuwe Bybel in Afrikaans, die Direkte Vertaling

Die Woord het Vlees Geword. Kort Beoordeling van die Nuwe Bybel in Afrikaans, die Direkte Vertaling.

Ook genoem die „brontaal-georiënteerde“ vertaling, wat in die jaar 2020 volledig en amptelik bekend gestel sal word, is inderdaad ‘n fenominale bydrae tot die Afrikaanse kultuurerfenis, woordeskat en samelewing. Vir ons gaan dit oor nog baie meer: is die Direkte Vertaling betroubaar vir liturgiese gebruik, vir Bybelstudies en vir amptelike aanhalings as die Woord van God? Nadat ek die vertalingsproses, werksaamhede en resultate oor meer as 15 jaar vervolg het, is my beskeie mening: inderdaad ja.

Aanhand van enkele punte mag ek dalk verduidelik wat tipiese kenmerke van die 2020 Vertaling is. Die opdrag aan die Bybelgenootskap het van 20 Afrikaanssprekende denominasies in die 1990s gekom, omrede die 1953 Vertaling inderdaad verouderde taal gebruik en die 1983 Vertaling té veel kompromieë in hulle weergawe aangegaan het. Meer as 180 medewerkers het in ’n ope proses oor amper 2 dekades en in samewerking met wetenskaplikes gewerk om sowel die Ou en Nuwe Testamentiese boeke, asook die sogenaamde Deuterokronieke of Apokriewe boeke (om tegelyk die Rooms Katolieke lesers ook te betrek) in leesbare Afrikaans te vertaal, met inagneming van die oorsprongskarakter van elke geskrif. Die term “direk” verwys na ’n soort aanhaling soos wanneer bv. ’n journalis direkte aanhalings van ’n belangrike toespraak in ’n ander taal weergee. Die bedoeling is dus nie om dit vir die leser maklik te maak of elke sinsgedeelte met die eerste oogopslag te laat verstaan nie, maar om die Woord van God soos aan ons oorgelewer, in sy oorspronklike formaat weer te gee. Daarby weerspieël die Direkte Vertaling baie voordele – te veel om hier te noem.

Veral Bybelstudie word vergemaklik deur talle voetnotas, kruisverwysings en vertalingsmoontlikhede, wat aan die leser deur gegee word. Byvoorbeeld: die term ‘geregtigheid’ word in die 1983 Nuwe Vertaling dikwels vertaal as ‘die vryspraak van God’. Die omskrywing is wel korrek, maar skiet te kort, want ‘geregtigheid’ behels nog baie meer: die regte verhouding met God, vergifnis, om heilig en reg voor God te staan, ens. Dus het die 2020 Direkte Vertaling verkies om die term net so te laat staan. Ja, toegegee, mense verstaan nie dadelik wat ‘geregtigheid’ beteken nie, maar eerder as om vir slegs één vertalingsmoontlikheid te vergoed, is daar ’n naslaangedeelte, waar die term breedvoerig bespreek word. Ons vind dus in die 2020 Vertaling ’n hele aantal antieke terme wat maat, afstand, plekname, titels, ens. betref, maar die bedoeling is om die destydse wêreld te omskryf. [Byvoorbeeld ’n ‘hekatontarg’ of ‘centurion’ is ’n ‘militêre bevelvoerder oor 100 soldate’ – die 1983 Nuwe Vertaling het dadelik die titel vertaal met ‘hoofman oor 100’, maar die Direkte Vertaling verkies om die oorspronklike titel te behou, omrede dít die titel is wat oorspronklik gebruik word, en in ’n voetnota word dan verduidelik wat hierdie titel behels.]

Kontrovers was in Afrikaanse geledere die spelling van hoofletters vir byvoorbeeld messiaanse titels soos “kneg van die Here” – is dit sommer enige ‘kneg’ of verwys dit na Christus as dié ‘Kneg van die Here’? Die oorspronklike Hebreeus ken geen hoofletters nie en bly die gebruik van hoofletters ’n saak van interpretasie. Soms is ’n kneg van die Here bloot ’n gewone kneg soos ’n profeet, koning of dienskneg; soms egter dra die term messiaanse gewig. Die Kerke tesame met die Bybelgenootskap het ooreengekom om twee weergawes van die Direkte Vertaling te druk – ene met deurgans hoofletters, en ene met hoofletters slegs wanneer daar geen twyfel bestaan, dat ’n titel wel na Christus verwys.

Die aanbeveling word deur die predikantskonferensie gemaak dat die 2020 Direkte Vertaling wel as die amptelike vertaling ook in die FELSiSA erken en in gebruik geneem sal word – waaroor die sinode sal besluit. Indien die vertaling wel aanvaar word, behoort ook gesangeboek en kategisme mettertyd hersien te word. Soos predikante huidiglik ook die vryheid geniet om óf die 1953 óf die 1983 Vertaling te gebruik, sal met verloop van tyd ook hierdie 2020 Direkte Vertaling tyd neem om ingefaseer te word. Ons dank die Here vir sy Woord – wat ook verder vir toekomstige generasies in Afrikaans beskikbaar sal wees. Alle Boeke van die Bybel van die 2020 Direkte Vertaling is beskikbaar by www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/proefvertalings.

Pastor Klaus-Eckart Damaske, Lüneburg

Recent posts
Koorsangfees ‘n bietjie anders

Koorsangfees ‘n bietjie anders

Angelika Johannes, Panbult Vanjaar se koorsangfees is vir 22 September 2024 te Durban beplan. ’n Paar dae vooraf het ‘n mens reeds verskeie boodskappe met erge…

Leraarskonvensie

Leraarskonvensie

Vikaris Tobias Schütze, Pretoria Die FELSISA leraarskonvensie het hierdie jaar by die Sitilo Wildplaas naby Pongola plaasgevind. Die program het…

Jeugdag 2023

Jeugdag 2023

Michelle Niebuhr, Pretoria Jeugdag – ‘n datum wat in helder kleure in die jaarkalender aangedui word; ‘n dag waar baie…

Preek vir Rogate

Preek vir Rogate

Eer jou vader en jou moeder soos die Here jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word…