God se genade vir elke ouderdom
Ons doop gewoonlik babas en kleuters. Maar hoekom doen ons dit? Sal dit dalk beter wees as die kinders later self besluit? Is dit selfs moontlik om met verwysing na sulke jong kinders van geloof te praat? In hierdie artikel word hierdie vrae ondersoek.
Die doop-familie staan rondom die doopvont. Die ouers bars van trots. Die peetouers is effens senuweeagtig. Die ma gee die baba versigtig aan die peetma, wat dit dan oor die doopvont hou. Met ‘n effense skeptiese uitdrukking op sy gesig verduur die kind hoe die predikant met sy bakgemaakte hand drie keer ‘n bietjie water oor sy voorkop giet terwyl hy sê: “Ek doop jou in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.” So – of soortgelyk – vind die meeste dope in ons kerke plaas. Die norm is dat mense as babas of klein kinders gedoop word. Natuurlik is daar uitsonderings. So byvoorbeeld die katkisant, wat voorheen aan geen kerk behoort het nie en eintlik net as gevolg van haar vriendin katkisasieklas toe gekom het. Of die man in sy veertigs wat deur ’n geloofskursus sy pad na die kerk gevind het. Die normale geval is egter die kinderdoop.
Is dit beter om nie kinders te doop nie?
Dit is egter geensins normaal vir almal nie. In ons sosiale kringe ontmoet ons dikwels mense wat hulle kinders nie wil laat doop nie. Daar is baie redes daarvoor: Die sosiale druk om aan die kerk te behoort het aansienlik afgeneem. Kerklike rituele het hul aansien verloor en lyk vreemd. Gesinne besluit individueel watter godsdienstige aanbiedinge by hul lewensituasie pas. ’n Mens hoor dikwels die beswaar of dit wel gepas is om kinders op so ’n jong ouderdom te doop. Daar is ‘n sekulêre en ‘n vrome variant. Die sekulêre weergawe is: “Ek wil nie my eie wil op my kinders afdwing nie. Hulle moet later self besluit of hulle gedoop wil word of nie.” Maar daar is ook baie soortgelyke kritiek uit sommige godsdienstige kringe: “Kinders kan nie ‘n bewuste keuse vir die geloof maak nie. Daarom moet ’n mens net jongmense of volwassenes doop.”
Die geskiedenis van die kinderdoop
Die kontroversie oor die kinderdoop is nie nuut nie. Namate die Christelike geloof deur die Romeinse Ryk heen versprei het, het ‘n debat ontstaan oor die toepaslikheid van die kinderdoop. Om die jaar 200 nC het die invloedryke teoloog Tertullianus hom daarteen uitgespreek. Hy was bang dat gedoopte kinders as volwassenes van die geloof sou wegval en sodoende die doop ongeldig sou maak. Sowat vyftig jaar later voer biskop Siprianus van Kartago aan dat God se genade oor alle mense strek, ongeag hulle ouderdom. Daarom moet kinders nie van die doop uitgesluit word nie. Hierdie posisie word in die kerk bevestig. Kritiek oor die kinderdoop is weer in die tyd van die Hervorming geopper. Maar die sogenaamde “Anabaptiste” het min goedkeuring gekry. Martin Luther en die ander hervormers het hulle duidelik uitgespreek ten gunste van die doop van kinders, en die regeerders het dit afgedwing – soms gewelddadig. Kerke wat vandag nog hoofsaaklik net volwassenes doop, soos die Baptiste of Mennoniete, is afkomstig van die Anabaptiste van daardie tyd.
Wat die Bybel daaroor sê
Ongelukkig is daar geen duidelike opdrag in die Bybel of kinders gedoop moet word of nie. Die Nuwe Testament vertel op verskeie plekke hoe volwassenes gedoop word (byvoorbeeld Matteus 3:13-17 of Handelinge 8:36-40). Tot watter mate ook kinders gedoop is, word nie uitdruklik genoem nie. Daar word egter herhaaldelik gesê dat mense met hulle hele huisgesin gedoop is (Hand 16:15+33; 1 Korintiërs 1:16). Kinders kon hierby ingesluit wees. Die situasie is soortgelyk met die opdrag om te doop: Jesus gee sy dissipels opdrag om dissipels te maak van “al die nasies” en om hulle te doop (Matteus 28:19). Tradisioneel sou ons ook kinders in ‘n land se bevolking insluit. Maar daar is geen duidelike ja of nee vir kinderdoop in die Bybel nie.
God kies my
Hoe kan die kinderdoop-kwessie dan opgelos word? Dit is die moeite werd om bietjie nader te kyk na dit wat werklik in die doop gebeur. Streng gesproke is die doop nie ‘n menslike besluit nie. Dit is eerder so, dat God ons in die doop kies, sy genade oor ons uitstort en ons sy kinders maak. Die doop is God se persoonlike belofte dat sy liefde vir ons sterker is as enigiets in ons lewens wat ons van hom skei. Aan die begin staan dus die feit, dat God my kies. Geloof is dan die reaksie op die feit dat God reeds gehandel het. Of soos Martin Luther dit gestel het: “My geloof maak nie die doop nie, maar ontvang die doop” (Groot Kategismus, Hoofstuk 4). Geloof is daarom volgens begrip van die Bybel nie ‘n bewuste keuse of besluit nie. Geloof is eerder met smaak of simpatie te vergelyk. Ek kan nie kies of ek van sampioene hou of nie. Ek het ook nie gekies om van my vrou te hou nie. Ek het haar van die eerste oomblik af ongelooflik simpaties gevind. Dit is dieselfde met geloof. Ek kan nie kies om God lief te hê en te vertrou nie, maak nie saak hoe oud ek is nie. Net God kan geloof in my bewerkstellig. En God doen dit deur weer en weer vir my te wys dat Hy my liefhet en daarom betroubaar is.
Babas glo ook
Daarom moet ons nie die moontlikheid dat babas en kleuters kan glo, oorhaastig uitsluit nie. Ons kan immers ook nie die geloof van volwassenes meet nie. Die navorsing van die ontwikkelingsielkunde daarenteen dui daarop dat selfs babas alreeds vertroue kan ervaar. Selfs in die baarmoeder bou hulle ’n vertrouensverhouding met hul ma op. Na geboorte kan pasgeborenes hul ma se stem van ander onderskei en dit verkies. Dit is ook ‘n teken van basiese kinderlike vertroue wanneer babas weens maagpyn of honger huil of vir hul ouers lag. Want net wanneer babas veilig en geborge voel, het hulle die selfvertroue om sulke emosies te toon. Alreeds Siprianus van Kartago het in die gehuil en geskreeu van pasgebore babas ‘n verborge aanduiding gesien dat hulle in God glo en Hom om hulp aanroep. Hierdie argument lyk verbasend aktueel: as ons vandag weet dat babas reeds hul ouers vertrou, wie sê dat hulle nie ook in God kan glo nie? Martin Luther het daarom die standpunt ten opsigte van die geloof van babas by die doop ingeneem: “Ons bring die kind hierheen met die opinie en hoop dat dit glo, en ons vra dat God dit geloof gee. Maar ons doop dit nie op grond van die geloof nie, maar net omdat God dit beveel het” (Groot Kategismus, Hoofstuk 4).
Die beste vir ons kinders
Die beswaar om nie deur die doop jou wil op jou eie kinders af te dwing nie, lyk aanvanklik aanvaarbaar. Vryheid van keuse is immers ‘n kosbare kommoditeit en ons wil hê ons kinders moet grootword om onafhanklike mense te wees. Terselfdertyd wil ons ook die beste vir hulle hê en probeer om hulle goed vir die lewe te vorm. Ouers moet baie dinge vir hul kinders besluit: Watter inentings moet my kind kry? Watter voedsel is goed vir my kind? Na watter kleuterskool, watter skool moet die kind gaan? Watter waardes wil ek aan die kind oordra? Uit die oogpunt van die Christelike geloof is die doop die beste ding wat ons vir ons kinders kan gee. Deur die doop word hulle met Christus verenig (Galasiërs 4:27). Deur die doop word hulle deel van Sy opstanding (Romeine 6:4-8). Deur die doop is hulle nou gered (1 Petrus 3:21). Op hierdie manier gee ons ons kinders ‘n waarde wat ‘n leeftyd sal hou. Daar is niks verkeerd om dit te doen as hulle babas is nie. God se genade is van toepassing op mense van alle ouderdomme.
Pastor Simon Volkmar (SELK)
Lutherische Kirche 4/2020