Ek leef, en julle sal leef.

Maria het buitekant by die graf gestaan en huil. … Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gedink Hy is die tuinier, en sê toe vir Hom: “Meneer, as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” Jesus sê vir haar: “Maria!” Sy het omgedraai en – in Hebreeus – vir Hom gesê: “Rabboeni!” Dit beteken ‘Leermeester’.

(Johannes 20:11.15-16)

Op Paasfees vier ons die gebeurtenis wat ons verseker dat die offerdood van Jesus Christus te alle tye vir alle mense op alle plekke voldoende is. Ons weet dat sy offer voldoende is omdat Hy uit die dood opgestaan het. Sy opstanding verseker ons dat Hy die sonde, die dood en die mag van die duiwel oorwin het deur die loon van die sonde te dra. Sy opstanding verseker ons dat God om Christus se ontwil nie meer ons sonde en ons skuld sien nie. Wanneer Hy na ons kyk, sien Hy die volmaakte, heilige geregtigheid van sy geliefde seun Jesus Christus.

Voor sy kruisiging het Jesus vir sy dissipels gesê hoe Hy hierdie geregtigheid sy kerk sou laat toekom.

In die hoofstuk van die Goeie Herder in Johannes 10 het Jesus sy kerk met ‘n trop skape vergelyk en homself as herder beskryf – as Goeie Herder. Hy het gesê dat die Goeie Herder sy lewe vir die skape aflê, maar ook dat Hy sy skape op hulle naam roep en hulle uitlei. Na sy opstanding het Jesus Maria aangespreek en haar op haar naam genoem. Die wolke van hartseer het verdwyn. Die lig van vreugde het deurgebreek. Die triomf het die tragedie verslaan. Vreugdetrane het die plek van trane van wanhoop ingeneem. Maria se geloofsgetuienis – slegs een woord: “Rabboeni!”

Die Goeie Herder roep ons nogsteeds op ons name. Hy roep ons deur sy Woord terwyl ons dit hoor en lees, leer en ter harte neem. Hy roep ons terwyl Hy sy Woord met die water van die Heilige Doop verbind en ons in sy familie opneem. Hy roep ons as Hy sy Woord met brood en wyn verbind en ons sy ware gekruisigde en opgestane liggaam gee om te eet en sy bloed, uitgestort tot vergifnis van sondes, gee om te drink.

Wat beteken dit dat Jesus ons by name roep? Dit beteken dat die vrug van die opstanding van Christus aan ons behoort. Dit beteken dat die geregtigheid wat Hy met sy heilige, kosbare bloed en met sy onskuldige lyding en kruisdood verwerf het, aan ons behoort. Wanneer Christus ons by name noem, verseker Hy ons dat Hy nie net in hierdie lewe nie, maar ook in die dood by ons is. As die dag van ons afsterwe kom, sal Hy ons by name roep om vir ewig saam met Hom te lewe.

Hy het belowe: “Ek leef, en julle sal leef.” Hy het belowe dat ‘n dag sal kom wanneer ons grafte so leeg sal wees soos sy graf, omdat ons soos Hy sal wees en ons Hom sal sien soos Hy is. Alleluia! Amen

Pastor Kurt Böhmer, Pretoria

Recent posts
Leraarskonvensie

Leraarskonvensie

Vikaris Tobias Schütze, Pretoria Die FELSISA leraarskonvensie het hierdie jaar by die Sitilo Wildplaas naby Pongola plaasgevind. Die program het…

Jeugdag 2023

Jeugdag 2023

Michelle Niebuhr, Pretoria Jeugdag – ‘n datum wat in helder kleure in die jaarkalender aangedui word; ‘n dag waar baie…

Preek vir Rogate

Preek vir Rogate

Eer jou vader en jou moeder soos die Here jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word…

Die 50ste VELSISA-sangfees – ‘n terugblik

Die 50ste VELSISA-sangfees – ‘n terugblik

Manfred Johannes, Pretoria Vanjaar is dit die kerkkore van die VELSISA gegun om op 2 Oktober in Johannesburg bymekaar te…