Sangfees 2016 te Wittenberg

Nieteenstaande die onverwagte koel en nat weer, het die jaarlikse Sangfees weer op 2 Oktober 2016 plaasgevind.

Uit alle hoeke van die sinode het sangers en sangeresse vergader om hierdie fees by te woon. By hul aankoms het vriendelike gesigte en ’n goed voorbereide saal almal begroet. Vir die besoekers wat die weer onderskat en nie warm genoeg aangetrek was nie, het die vriendelike en vrolike wedersiens plek gemaak vir hartlike warmte. Daar was ook  heerlike koffie, tee en koek wat almal welkom laat voel het. ’n Hartlike dank jeens die Gemeente van Wittenberg vir al hul reëlings en gasvryheid.

Leiers van die verskeie kore het Saterdag byeengekom vir die jaar-vergadering. Afgesien van algemene punte op die agenda is spesifiek ook aandag gegee aan die komende herdenkinge van volgende jaar (2017), naamlik dié van die reformasie (500 jaar), die Bleckmar sendingwerk (125 jaar), die LCSA (50 jaar) en die FELSISA (125 jaar). Die hartseer skeiding van FELSISA uit die Hermannsburg Sending ingevolge die (kerklik) politieke ontwikkelinge in Duitsland hoort ons herhaaldelik nederig te laat besin oor hoekom hierdie stap en belydenis nodig was en steeds is (sien die tema van die dag onder).

Die laaste twee repetisies was ter voorbereiding van die Sondagoggend diens. Die tema van die dag: Sola scriptura. Tesame met die sola gratia (tema van die sangfees in Durban in 2015), sola fide (Tema van die sangfees 2017 te Pretoria) en die solus Christus, word die grondslag van die reformasie en die reformatoriese teologie benadruk. Sola scriptura beteken: Alleen deur die Heilige Skrif.

Pastor Helmut Paul het sy preek uit Johannes 1 gebaseer op dieselfde bybelvers wat deur die koor gesing is, naamlik: Die Woord het vlees geword en onder ons gewoon, en ons het sy heerlikheid aanskou. Hy beskryf hoe God die vlees aanneem en so terselftertyd volkome, ware God (die Woord) en ook volkome ware mens (word vlees) word. Hierdie konsep is vir die mens onbegryplik, maar tog is dit waar. Die Woord het vlees geword, nie net vir ’n sekere tydperk nie, maar omdat Jesus Christus in Sy verheerlikte liggaam in die Hemel opgelig is terwyl hulle toegekyk het. Hy sit nou aan die regterhand van God nie net as ware God nie, maar ook as ware mens. Die Woord het vlees geword. Oor die nagmaal sê Hy: Dit is My liggaam en dit is My bloed. Tesame met woorde uit Johannes 6:35 (Ek is die brood van die lewe) en Johannes 6:53 (Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Tensy julle die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink, het julle geen lewe in julleself nie), openbaar Hy homself as terselftertyd volkome ware God en volkome ware mens. Hierdie is vir ons onbegryplik, maar steeds getuig die Skrif daarvan. Die Woord het vlees geword en onder ons gewoon, en ons het sy heerlikheid aanskou. So sing ons dan ook na elke Nagmaal met Simeon: …want my oë het u Heiland aanskou

Na afloop van die pouse het Pastor Matthias Albers oor die tema van die dag: Alleen die Woord – die Heilige Skrif uitgebrei. Baie kerke beweer dat hulle leerstellings, sover as wat hulle sistematies geformuleer is, alleenlik op die Heilige Skrif gefundeer is. Hoekom is daar dan sulke groot verskille in die praktyk tussen die verskillende denominasies? Dit laat die vraag ontstaan hoe die Skrif werklik uitgelê en verklaar moet word (die sogenoemde hermeneutiese sleutel).

Hierop antwoord die reformatore: Sola scriptura. Die Skrif is helder, duidelik en interpreteer Homself: Skrif lê Skrif uit. Die buiteskriftelike Tradisies soos in die Rooms-Katolieke Kerk, asook beweerde direkte ingewings en lewensaanwysings van God (bo en behalwe die skriftelike getuienis), soos bv. in die Charismatiese Beweging, word nie aanvaar as gelykstaande aan die outoriteit van die Heilige Skrif nie. Nee: Sola scriptura. Omdat ons sondaars is, is ons nie ten volle lief vir God, met al ons kragte en met ons hele hart soos die Wet dit voorskryf nie. Die uiteinde van die sonde is die (ewige) dood – Wanneer ons voor God se aangesig verskyn, sal die wet ook vir ons sondes die doodstraf eis. Ons Here Jesus Christus het vlees geword en het sy lewe vir ons s’n gegee, sodat ons die ewige dood nie meer hoef te sterwe nie, mits ons hierdie glo en ons in Sy dood laat doop. Sodoende sal ons ook eendag, nes Hy, opstaan uit die dood met ’n verheerlikte liggaam tot die ewige lewe.

Ter afsluiting het die koorleier, Manfred Johannes, ’n bydrae gelewer oor die lewe en werke van Max Reger. Reger se musiek is nie altyd maklik op die oor nie, maar die stukke van Reger, wat wel gesing is het positiewe reaksies by die luisteraars ontlok. Manfred Johannes word bedank vir die onbaatsugtige werk, al sy moeite en die insette wat hy in die sinode rondom koorwerk lewer. Ons dank die Here, ons God vir hierdie dag wat Hy aan ons geskenk met: Soli Deo Gloria (aan God alleen die eer).

Bernhard Böhmer, Pretoria (vertaling: Heidi Böhmer)

 

Recent posts
Die Kerk – ’n Vreemde Plek? Ervarings van die 2024 Jeugkamp

Die Kerk – ’n Vreemde Plek? Ervarings van die 2024 Jeugkamp

Camilla Ziegler, Deutschland Camilla Ziegler, Duitsland Die FELSISA jeugkamp het van die 10de tot die 15de Desember in Kirchdorf, Wartburg…

Tienerkamp 2024

Tienerkamp 2024

Maike Paul, Panbult ‘n Naweek vol pret, lag en leer waar ons baie onvergeetlike herinneringe geskep het! Vanjaar se tienerkamp…

Koorsangfees ‘n bietjie anders

Koorsangfees ‘n bietjie anders

Angelika Johannes, Panbult Vanjaar se koorsangfees is vir 22 September 2024 te Durban beplan. ’n Paar dae vooraf het ‘n mens reeds verskeie boodskappe met erge…

Leraarskonvensie

Leraarskonvensie

Vikaris Tobias Schütze, Pretoria Die FELSISA leraarskonvensie het hierdie jaar by die Sitilo Wildplaas naby Pongola plaasgevind. Die program het…