Dis Sondagoggend 10h30! Ons kom die dorp Piet Retief binne en ry verby drie kerke – almal Afrikaans-sprekende gemeentes; húlle eredienste het so pas geëindig en van hulle lede is besig om huis toe te ry.
Ons erediens begin eers 11h00, wanneer die res van die dorp al voorbereidings tref vir middagete. Dit is beslis nie die beste tyd vir ’n erediens nie, maar onder huidige omstandighede het ons nie ’n ander keuse nie: ek bly en werk eintlik vir die bediening op Panbult, waar die eerste erediens eers skuins na 09h30 geëindig het, en dan is daar nog die 50 km rit na Piet Retief toe! Gelukkig is die verkeer op die N2 op ’n Sondagoggend redelik rustig.
Ons kom by die klein kerkie op die hoek van Kruger en Joubert straat – die tuiste van die Evangelies Lutherse Christusgemeente. Hierdie gebou het ’n interessante storie om te vertel. Dit was oorspronklik ’n losie van die Vrymesselaars en wie weet wat se misterieuse rituele daar agter geslote deure plaas gevind het? Maar sedert 2004 is dit ’n huis van die Drieenige God. Nadat ’n paar nodige veranderinge aan die gebou gedoen is, is dit deur die destydse moderator van die VELSISA, Pastor Peter Ahlers, ingehuldig. Nou is die ’n plek van genade, waar die Here Jesus Christus sy gelowiges kom bedien met sy Woord en Sakramente.
Wanneer ek op pad kerk toe deur die strate van Piet Retief by al die verskillende kerke verby ry, dan vra ek vir my dikwels die vraag: Wie of wat gee vir ons die reg om nóg ’n afrikaanse gemeente te stig en om nog ’n erediens in Piet Retief te vier? Die antwoord op hierdie vraag is eenvoudig en word elke Sondag bevestig: Die Afrikaanse gemeente van die Lutherse Kerk is beslis nie ’n nuwe bediening nie. Lutherse Afrikaanse eredienste word al vir meer as 20 jaar in Piet Retief gehou. Dit het begin as ’n ‘dogter’-bediening van die Lutherse Gemeente te Wittenberg, spesifiek vir hulle Afrikaanssprekende lidmate en hulle families. Daar was en is ’n behoefte vir eredienste in hulle moedertaal. Maar daar is ook ruimte vir uitbreiding en groei vir die Lutherse Kerk in Piet Retief. Toe Pastor Rüdiger Gevers ’n beroep na die gemeente in Panbult aanvaar het, het die Sinodale Dagbestuur besluit dat die leraar op Panbult ook die bediening in Piet Retief sal behartig.
Goedgunstiglik het die gemeente te Panbult tot dusver die volle salaris van die Pastor vir altwee bedienings gedra. Met al die leraars en predikant wat lank voor my tyd die gemeente in Piet Retief bedien het, dink ek aan iets wat Paulus in 1 Korintiërs 3 geskryf het. Paulus vergelyk daar die werk van die kerk met die werk op ’n plaas: daar is ook baie medewerkers – die een ploeg, die ander plant, ’n derde een skoffel, die vierde persoon gooi nat en die vyfde ou kom en oes. Dit alles terwyl dit God is wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat ploeg of plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. Nietemin is ek is dankbaar dat ek daardie gelukkige Pastor mag wees wat agv getroue en harde werk van my voorgangers nou die voorreg het om te mag oes, om te mag sien hoedat die gemeente groei.
Ek parkeer voor die kerk. Dis so skuins na 10h30 en tot dusver is daar net een ander voertuig by die kerk, maar ek is nie bekommerd nie – nie meer nie! Die afgelope maande word die eredienste goed bygewoon, maar ek het geleer om nie ongeduldig te word nie. Meeste van die kerkgangers daag net betyds op. Ek noem dit maar ’die Lutherse wonderwerk’, wat gewoonlik so 5 tot 2 minute voor 11h00 gebeur. Dus kan ek rustig met my voorbereidings vir die erediens begin.
Dis een minuut voor 11h00. Ek staan saam met een van die ouderlinge by die deur en kyk of daar nog mense kom. Daar ver bo in die straat parkeer nog ’n voertuig en ’n familie klim uit. Ons wag totdat hulle ook ingekom het, maar hulle moet ’n hele entjie loop. As jy deesdae laat kom, moet jy bereid wees om vêr te parkeer en om voor in die kerk te moet sit! Nou is almal daar en ons kan begin. Die erediens sal dalk vir gaste uit tradisionele Lutherse Gemeentes ietwat vreemd lyk en klink. Daar is geen tafels met die lied nommers nie, daar is geen gesangboeke nie, net ’n groot skerm en ’n projektor. Daar is ook geen liturgiese sang nie. Daar is wel liturgie, maar baie eenvoudig en basies, en daar word ook baie gesing – uit die elektroniese NG Liedboek via die projektor (Dié gesangboek is propvol van bekende Lutherse gesange – en hulle is uitstekend vertaal!) Ons het ook ’n orrel en TWEE orreliste. Natuurlik begin ons met die belydenis van ons sonde en mag ek aan die gemeente die wonderlike vryspraak en vergifnis toesê. Daar is psalmgebede, lofprys en danksegging, lesings en belydenis van geloof. Met die gesang voor die prediking loop die kleintjies met hulle helpers uit na die voorportaal vir die kinderkerk. Na die prediking is daar geleentheid vir ‘smekinge, gebede, voorbedes en danksegginge vir alle mense’. Dan word die Nagmaal van ons Here Jesus Christus gevier!
Aan die einde van die erediens is daar nog ’n paar aankondigings: Die dankoffer was ’n bedrag van… Dit verbaas my elke Sondag hoe gewillig die mense is om te gee. Die Sondag kollektes maak dit moontlik dat ons op datum is met ons begroting. Maar daar is ook ander bydraes van buite af – veral die Gemeente te Wittenberg ondersteun ons geweldig en van hulle lede gee gereeld donasies. Ons sê baie, baie dankie daarvoor! Verder kondig ek aan: Donderdag tussen 16h00 en 17h00 is daar weer Bybel- en Katkisasieklas. Daar is intussen twee groepe van 6 kinders elk: die kleintjies wat Christa behartig en die groter kinders wat ek help voorberei vir hulle konfirmasie / bevestiging.
Ek vra of daar nog aankondigings is, en daar is wel iemand van die basaar komitee wat iets wil sê. Laat ek ook iets oor die basaar en die komitee sê: ons het verlede jaar ’n baie suksesvolle basaar gehou op die terrein van die Piet Retief Rugby Klub. Die samewerking en bydraes van gemeentelede was ongelooflik, maar ook die hulp, bydraes en skenkings van ander mense, veral van Wittenberg, was verbasend. Hierdie jaar poog ons om einde Oktober weer so ’n basaar aan te bied. Die lede van die komitee is druk besig om alles te reël – hulle lewer uitstekende dienste! Van dienste gepraat: daar is ook die kerkraad, die dames komitee, die instandhouding komitee en die finansies komitee – almal het bekwame en gewillige leierskap en medewerkers. Al wat kort is die koeksister komitee!! Ek moet nog uitvind – is so iets Luthers?
Pastor Matthias Albers, Panbult